Help!!! My kind sukkel met wiskunde. Deel 3.

Hierdie artikel is nr 3 in die reeks oor wiskunde.  Ons fokus weereens op die klein outjies wat die hele grondslagfase insluit.

Lees gerus HIER deel 1, en HIER deel 2.  In vandag se artikel is ons fokus op praktiese raad.  Tone in die sand, voet op die teerpad, vingers in die deeg idees vir hulp met wiskunde.  Al die idees sal jy as ouer maklik tuis kan aanpak met min tot geen uitgawes.

Jy gaan gereeld jou oë rol vir hoe eenvoudig die voorstelle is, maar glo my dit gaan werk! Ons gebruik reggio emilia benadering.  (Kom ek defineer net gou die beginsel, deur sommer wikipedia aan te haal “The Reggio Emilia Approach is an innovative and inspiring approach to early childhood education which values the child as strong, capable and resilient; rich with wonder and knowledge.”

Die ouers in die dorpie Reggio Emilia in Italië het saam met ‘n sielkundige (Loris Magaluzzi) na die tweede wêreld oorlog besef dat kinders anders moet leer.  Kinders was toegelaat om op hulle sterkpunte te fokus en die kurrikulum was gelei deur die kinders eerder as die instansies.  Die kinders se hele bestaan (hulle onmiddellike omgewing) is so verander dat elke aksie ‘n leergeleentheid geword het.

Ek kan vir ure oor die wonderlike plek praat en glo ek sal eendag self in die dorpie se stofstrate mag stap.  My doel met die lang verduideliking oor die Reggio Emilia benadering is as volg.  Ons as ouers moet weer begin besef dat kinders ALTYD leer, en veral tuis.  Skep vir jou kind ‘n atmosfeer en omgewing waar jou kind kan floreer en leer.

Ons kinders is slimmer as wat ons dink en beslis tot meer in staat as wat ons hulle voor krediet gee.  Moet nooit ‘n vindingryke kleuter onderskat nie.  Ek lees nou die dag op facebook van ‘n pappa wat die hele gemeenskap op hol het oor hulle 4 jarige weg is.  Die GPF het al begin help soek…

Toe vind hulle hom.  In die hondehok.  Sy juffrou het verduidelik as mens wegkruipertjie speel moet jy nie ‘n geluid maak nie, al roep iemand jou.  Die vindingryke rammetjie het besluit om sy ouers oornag te verouder deur sy nuwe kennis tuis toe te pas.

Dis waarna ons gaan streef.  Ons gaan jou kind op ‘n speel manier die “reëls” van getalle leer sodat hy dit op enige plek sal kan toepas.

Jou kind se eerste ervaring van wiskunde is altyd vorms.  Voor hy leer tel, voor hy kan praat, voor enige abstrakte kennis vasgelê kan word moet jou kind met blokkies speel!!!

Bou jou eie blok konstruksies en neem dit af.  Nou moet jou kind die 2D prentjie gebruik en dieselfde konstruksie in 3D bou.  Dis moeiliker as wat mens dink!

As jy nie mooi houtblokkies het nie, gebruik allerhande leë bokse en blikkies en proppies.

Voel dit al of julle met wiskunde besig is? Nog nie? Wonderlik, doen so voort.  So leer ons kinders die heel beste.  Speel-speel en gesels-gesels.

Pak nou bakkies uit en nommer hulle van 1 – 10.  Nou kan jou kind sy hele lyfie gebruik.  Julle gesprek kan so iets klink :

“Sussa, staan nou 4 tree terug.  Gooi 3 klippies in die nommer 3 houertjie.  Mooi so.”

“Gee nou 1 tree nader.  Gooi nou 4 klippies in die nommer 4 houertjie.  Watter een het die meeste?”

“Hop nou op 1 been nader en wys vir my waar die nommer 10 bakkie is. Het hy die meeste of die minste in.”

In ‘n koerantartikel van ‘n paar jaar gelede het ons opvoedkundige sielkundige die volgende raakgelees.  (Beeld 2014) “Hoeveel wiele het 7 fietse?  Die vraag is te taai vir gr 1’s gevind.”  My 4 jarige kon die vragie antwoord toe ek dit herhaal.  MAAR sy weet sy mag die fietse teken, en sy weet sy kan maar haar vingers gebruik.  Sy word geleer dat sy die probleem met haar hele lyfie kan en mag aanpas.

Hierdie artikel wys vir my so duidelik dat ons kinders nie weet hoe hulle ‘n eenvoudige vragie kan aanpak nie.  Die basiese kennis ontbreek. Dit kom ook daarop neer dat kinders nie die taalgebruik verstaan wat lei tot somme nie.  Praat dus gereeld terwyl jy wiskunde oefen.

Gesels met jou kind.  Gedurig.  Terwyl julle winkel toe ry is die perfekte tyd vir woordsomme.  “Ek het 4 bokse melk nodig, daar is 2 liter melk in ‘n boks.  Hoeveel liter melk is dit?”  Jy gaan vinnig agterkom of jy die somme moeiliker of makliker moet maak.  Moenie raas as jou kleinding verkeerd is nie, help.  Leer saam.  Lag saam.  Lewe saam.

Ek onthou so goed my vrees vir tafels na ek aan die aandete tafel my pa se bulderende stem moes antwoord.  Ek kan ongelukkig steeds nie my tafels uit my kop opsê nie.  Moenie vrees in jou kind plant nie.  Geen kreatiewe gesonde groei vind plaas as die wortels vrees is nie.

Wiskunde oefen moet die pret deel van die middag wees.  As jou kind al ouer is en met somme sukkel.  Gaan haal die plastiese teller, of klippies, of wattebolletjies en laat hy die wiskunde SIEN.  Laat hy die klippies pak totdat hy verstaan wat van hom verwag word.  Ek glo dat ‘n juffrou eerder net 1 som met verstaan en begrip sal wil sien as as 10 bladsye met geen begrip en met raai antwoorde.

Ek gaan nog een praktiese voorbeeld noem vandag en dan eers afsluit.

Bou met legos (of enige ander blokkies wat ewe groot is) ‘n toring met 5 blokkies en ‘n toring met 7 blokkies en 8 blokkies. Watter toring is die hoogste?  Watter een is in die middel?  Watter toring is die laagste? Wat gebeur as ek een wegvat by die hoogste toring?  Wat gebeur as ek die onewe getal toring in die helfte probeer breek.

Jou kleinding hoef nog nie alles te verstaan waarmee hy besig is nie.  Maar jy berei sy gedagtes voor vir groter dinge.  Jy berei hom voor vir die toepassing van wat hy nou net gesien en beleef het.  (Dink weer aan die seuntjie in die hondehok).

Hierdie was nou my laaste voorbeeld vir vandag.  Gaan pas nou hierdie toe in julle huis en kom vertel vir ons hoe julle wiskunde in julle huis laat lewe.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create a website or blog at WordPress.com

Up ↑

%d bloggers like this: