Wat maak ‘n ma so besonders?

Dis asof ‘n ma se plek in die samelewing begin wegkwyn. Die dokter, terapeut, juffrou, skoolhoof, skoonma, buurvrou en tannie af in die straat weet almal beter wat goed en reg vir jou kind is. Goed bedoelde raad voel soms soos ‘n vuishou in jou maag. Raad is ook net raad as jy dit mag weier! Wanneer die wenkbroue lig en jou skoonma vir die tiende maal vra of jou 2 jarige dan nog nie “gepotty train” is nie, dan is belangstel en raad ook nou nie meer welkom nie….

Ek praat daagliks met mammas wat onseker van hulleself is en wat begin twyfel aan hulle vermoëns. Na ‘n geselsie of 2 is die oorsaak altyd dieselfde.  Ons dokter het gesê, sy juffrou het gesê, ons buurvrou het gesê, my skoonma het gesê, my kind-grootmaak-boek het gesê….  AL hierdie raad is met goeie bedoelings gegee, en al hierdie raad is bruikbaar en selfs korrek, maar (hier is die groot maar) geen raad is generies waar vir elke kind nie.

As ek so treetjie terugstaan en aan die generiese “one size fits all” raad dink kan ek nie help om te glimlag nie.  Ek het nie te lank terug nie my mollige lyfie in so ‘n “one size fits all” Chinese skepping probeer inwurm.  Al wat ek kan sê is dat my peer-lyfie en jou piesang-lyfie NIE in dieselfde pakkie sal mooi lyk nie. Hoekom op aarde voel ons dan dat ons kinders in so ‘n Chinese “one size fits all” opvoeding en onderrig pakkie sal kan pas?

Kinders verskil.  Elkeen is uniek.  As volwassenes is ons tog te trots op ons unieke styl en manier van dinge doen en die lewe hanteer, maar ons kinders moet almal op dieselfde tyd leer lees, en skryf, en tonne ander dinge.  (LET WEL.  Ek sê geensins dat mylpale nie sinvol is nie, inteendeel dis ‘n baie goeie aanduiding van vordering sowel as voortydige raaksien van probleme). Mypale is egter ‘n aanduiding van ontwikkeling. Nie die alfa en omega nie.

Ek het 3 kinders.  Oudste het op 4 jaar eers gepraat, middelste een op 18 maande al kort sinnetjies gesê en die jongste… wel, sy is nou 18 maande en kan nog net sowat 20 woordjies sê.  Oudste het op 18 maande eers geloop (presies 18 maande), middelste op 17 maande en my jongste op 13 maande.  Dis net in MY huis.  Met net 3 kinders as my verwysing.

Waarom dan nou my vreeslik pleidooi vir mammas om skaamteloos hulle plek in hulle kinders se lewe op te neem?

Want jy is daar!!! Teenwoordig, elke dag.

Ek kan dalk nie vir jou belaglike formules resiteer van Bernoulli nie, maar ek kan vir jou sê hoeveel doeke my jongste gehad het in 24 uur, ek kan presies sê as my kinders effens moeg of siekerig is, ek kan sien as ‘n hartjie bietjie meer aandag nodig het.  Ek weet wanneer om bietjie aan te moedig, en wanneer om die ego so bietjie te bestuur. Ek weet wie het ‘n alleen roomys saam met mamma nodig.  Ek weet hoe my seuna lyk as sy bloedsuiker bietjie laag val en hy goor raak, nie van ‘n slegte bui nie, maar van te veel suiker.  Ek weet hoe my seuna lyk as hy verleë is, ek weet ook dat hy nuwe dinge vrees en dat ons gereeld daaraan werk.

Ek weet wanneer die spesiale gebedjie nodig is om ‘n hartjie rustig te maak.  Ek weet watter kind praat, al praat al 3 gelyk.  (Ek verwar gereeld hulle name, maar my hart is nooit deurmekaar nie).

Geen dokter, of juffrou, of buurvrou of selfs ouma spandeer soveel tyd aan hierdie mensies soos ek nie.  Niemand ken hulle soos ek nie.  Daarom mag ek trots as hulle mamma staan.  Ek mag grasieus almal se raad en fronse trotseer (by my liewe man kla) en aangaan om te doen wat ek weet vir hulle goed is.

Gaan ek perfek wees?  Nee.  Gaan ek foute maak?  Ja.  Gaan hulle eendag hulle kinders op hulle eie manier wil grootmaak? Ja.  Gaan ek die fronsende ouma wees?  (Ek hoop nie so nie, maar ek vermoed die antwoord hierop is JA!)

Mamma, moet nooit aan jouself twyfel nie.  Doen JOU bes.  Moenie toelaat dat ons geld gedrewe samelewing jou laat twyfel aan jou keuses nie.  Moenie ooit dink jou kinders verdien beter as jy nie.  Jy is die heel beste plan vir jou kinders.  Hulle “first line of defense”.  Ek klink vandag ‘n glasie op elke mamma, ma, moeder, mammie wat ek ken! Julle is tops.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create a website or blog at WordPress.com

Up ↑

%d bloggers like this: