Wiskunde

Wiskunde – ‘n belangrike deel van ons maats se leefwêreld.

Wiskunde is een so ʼn area of vakgebied wat die opvoeder vir die jong kind kan laat verken. Dis ʼn algemene feit dat baie kinders ʼn vrees vir wiskunde opbou omdat hulle ervaring van wiskunde negatief was. Dit kan dikwels die gevolg wees van die opvoeder wat te vroeg begin met formele onderrig in wiskunde in plaas van die informele inbou van die basiese beginsels van wiskunde. Ons besig met die onderrig en versorging van Vroeë Kinderontwikkeling, weet verseker dat kinders met negatiewe ervarings op enige gebied, staan ʼn kans om ʼn weersin op te bou in daardie leerarea en dra dit saam na die laerskool waar dit net verder lei tot swak prestasies.

Wiskunde, soos enige ander leerarea, behoort die hele dag deur geïntegreer te word in die dagprogram soos bv.

  • Tydens groeptyd kan wiskunde aktiwiteite deel uitmaak van die lesaanbieding.
  • Wanneer bewegingsaktiwiteite aangebied word, is daar baie geleentheid om beginsels te ervaar wat onderliggend is aan wiskunde soos:
  • posisies – agter, voor, langsaan, op, onder,
  • rigting – vorentoe, agtertoe, verderaan,
  • vlakke – hoog, middel, laag,
  • balans – op die grond, op apparaat,
  • vorms – gevorm met ʼn tou om op te loop of met kryt op die stoep geteken en dan met ʼn karretjie gevolg.
  • Vryspel buite waar geklim, geklouter, geswaai en gebou kan word om al bostaande posisies in die ruimte te ervaar.
  • Vryspel binne waar geleentheid is vir:
  • Rollespel in die fantasie area wanneer gedek word vir twee maatjies, drie gesinslede is, soveel koppies in soveel pierings, een bedjie vir elke pop.
  • Kreatiewe kuns waarbinne-in ʼn sekere grootte papier gewerk word, daar ʼn sekere aantal kwassies en kryt is, waar op die lyn geknip word en simmetrie beleef word wanneer ʼn raampie om die tekening gemaak word.
  • Werk aan ʼn wetenskap projek waar ervaar word hoeveel langer ʼn hoendereier vat om uit te broei as ʼn duifeier.
  • Speel in die sensoriese area waar gemeet kan word hoeveel meer, minder net soveel water/sand/saagsels in een houer kan wees as in die ander een.
  • Al die opvoedkundige speletjies waar syfers, grootte, patrone, klassifisering en opeenvolging van prente deel van uitmaak.
  • Liedjies, stories en gediggies waarin syfers ʼn rol speel.
  • Tema aanbiedings waar gebeure uit die geskiedenis van die verlede herleef word, of aardrykskunde waar padkaarte geteken word van die pad na Oupa-hulle se plaas toe of al die bakens wat mens kry van die huis af sentrum toe.

Die volgende beginsels is aan die basis van die verkenning van wiskunde:

  • Getalle, bewerkings en verwantskappe – werk met getalle en die begryping van getalle.
  • Patrone, funksies en algebra – werk met patrone en verskillende vorms.
  • Ruimte en vorm – werk met eienskappe van vorms, kenmerke en taalgebruik om posisie, rigting en afstand aan te dui.
  • Meting – werk met meetinstrumente om tyd (gebeure), lengte, massa en volume te meet.
  • Datahantering – werk met voorwerpe deur dit te versamel en te sorteer, voorstelling te maak hiervan en daaroor te praat.

 

  • Getalle, bewerkings en verwantskappe –(Getalbegripontwikkeling).

Die klein kind word begelei om met gemak en vertroue getalle te herken, te beskryf, te tel, te skat en te bereken en daarna te kontroleer. Gebruik die regte woordeskat by elke situasie. Die volgende aktiwiteite kan aangebied word om die kind ervaring in bogenoemde te bied:

  • Hoeveel vlerke sien jy aan die vliegtuig? Het die polisiemotor net soveel wiele soos jou pa se kar? Tel die twee bokke se bene
  • Gaan haal die syferskaarte om te pas by jou antwoord. Pak tellers uit langs die getalle Kyk hoeveel stoele is by hierdie tafel en kry die getallekaart wat pas.
  • Het jy net soveel ore as Derek? Is die eend se pote groter as die duifie sin? Hoeveel meer bene het die kalfie as jy? Het die kat net soveel bene as die hond?
  • Mamma hen het 10 eiers gelê. Daar kom 8 kuikens uit. Hoeveel eiers het nie uitgebroei nie?
  • Deel die krale in twee groepies en kyk of daar ewe veel in elke groepie is. Sit nog twee krale by die eerste groepie, watter groepie het nou die meeste krale?..en watter groepie se krale is die minste?
  • Hierdie lorrie het 8 wiele. Hoeveel moet ons wegneem om 6 te laat oorbly?
  • Pak twee blokke uit. Refilwe sit nog twee by. Hoeveel is daar nou? En as Susan nog drie bysit? Hoeveel is daar nou? En sê-nou ons gee drie blokke vir Naido, hoeveel bly oor?
  • Vra ook bogenoemde tipe vrae maar doen dit sonder apparaat m.a.w. net mondeling.
  • Ryg 5 krale in. Hoeveel gaan daar wees as ons nog 5 bysit?
  • Kom ons pak ʼn treintjie van die blokke. Hoeveelste is die groot blok, eerste of tweede?
  • Waar op die getallelyn is 5?….10?
  • Kom ons laat die padda spring op die getallelyn op elke tweede getal; 2,4,6,8,10.
  • Kan die padda nou al met die getalle langs terug tel tot by die een? (ouer groep)
  • Help die sprinkaan om met die trappies van die getalleer op te klim. Tel die trappies wat hy klim. (jonger groep)
  • Klap die handjies en dan tel ons saam: 1,2,3……….10. Tel nou terug; 10,9, 8……1.

Onthou:

  • Kinders kan bloot ritmies tel soos met ʼn telrympie waar hulle die getalle agtermekaar onthou maar nog nie die getalwaarde verstaan nie.
  • Kinders tel rasioneel wanneer hulle getalvolgorde ken en dit kan toepas op tellers of vingers.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create a website or blog at WordPress.com

Up ↑

%d bloggers like this: