In hierdie leerstasie het ons boontjies in ‘n bak gegooi. Die kind kry ‘n knyptangetjie (gebruik liefs een met ‘n redelike breë punt vooraan sodat die boontjies nie uitgly en die kind moedeloos maak nie). Haal nou boontjies uit die bak met die knyptang.
Onthou dat ons klein maatjies onder 3 jaar liefs nie hierdie aktiwiteit moet aanpak nie, en die ouer maats steeds onder toesig. Boontjies is bekend daarvoor om presies in allerlei gate te pas.
Botterboontjies werk natuurlik heerlik aangesien dit ‘n lekker groot boon is.
Hier volg so paar variasies wat die bostaande tema in gedagte hou :
- Skryf syfers op die boontjies met ‘n swart permanente merker. Gee vir die kind ‘n dobbelsteen met kolle op. Rol die dobbelsteen en soek nou die boontjie met die regte syfer uit om by die dobbelsteen te pas. Doen dit ‘n paar maal.
- Gebruik steeds jou boontjies met syfers op en pak syferkaarte uit. Die kind moet die syfers vang wat ooreenstem met die syferkaarte.
- Gebruik boontjies met niks geskryf op nie en pak 1 boontjie op elke prentjie van die syferkaart. Tel nou die boontjies op die kaart.
- Pak jou syferkaarte in ‘n ry uit en sit ‘n leë bakkie langs elke syferkaart. Die kind moet nou tel hoeveel op die syferkaart is (bv 5) nou moet daar 1 meer in die bakkie gesit word. (Pak dus 5 en 1 in die bakkie). Doen dit nou met so paar syferkaarte.
Onthou altyd dat elke stasie makliker en moeiliker gemaak kan word om by die kinders in jou klas se vlak aan te pas. Sodra ‘n kind die makliker gedeelte baasgeraak het kan jy die stasie aanpas om weer ‘n verdere uitdaging te bied.
Is die maatjies in jou klas (of jou kleinding by die huis) nog in die 2 tot 3 jaar groepie? Jy gaan mooi moet toesig hou as jy boontjies uitsit vir die woelige spannetjie, anders druk iemand dalk ‘n boontjie op in ‘n neusie. Maak dus seker jou groepie is óf baie klein of dis tuis saam met jou eie kind.
Verskaf so paar boontjies in ‘n bakkie. Moet nie die bak té vol maak nie. Gee ‘n leë bakkie langsaan. Wys nou jou patroon hoe om met die vingertjies (wysvinger en duimpie) die boontjies een vir een vas te knyp en in die leë bakkie te gooi. Dit is baie goeie fyn motoriese oefening en goeie visueel motoriese oefening.
Leave a Reply