Pak jou alfabetkaarte uit vir hierdie pret leerstasie. Ons het die alfabet in die korrekte volgorde uitgepak, deur blootstelling word die volgorde van die alfabet sommer gou ‘n maklik herkenbare struktuur vir die kind. Saam met die alfabet het ons helder kleurige sponsies verskaf. Dis sommer die sponsies waarmee ons skottelgoed was.
Jy kan nou verskeie aktiwiteite met hierdie apparaat aanpak, hier volg so paar idees :
- Gee vir die kind ‘n uitdruk van hulle name. Pak nou ‘n sponsie op elke klankie wat in jou naam voorkom (maak seker daar is genoeg sponsies vir elke maat se naam). (klank en vorm herkenning)
- Sê hardop ‘n paar woorde vir die kind. Die kind moet die woorde onthou en nou die eerste klankies van die woorde in die alfabet gaan soek. (ouditiewe geheue)
- Gebruik julle tema woorde en gaan soek die eerste klankies in elkeen van die tema woorde. (vorm herkenning)
Hierdie leerstasie kan met die klein of onervare maats ook aangepak word, maar die leiding vanaf die opvoeder / ouer gaan soveel meer moet wees. Help die kind met elke stap en hou aan vrae vra totdat die kind voel hy/sy het self by die antwoord uitgekom.
Leave a Reply