Ons hoor deesdae so dikwels van kinders wat so sukkel met skryf. Die vingertjies wil nou maar net die die potlood ordentlik vashou nie. Dan is ons geneig om te dink die ou kindjie moet tog net meer oefen. Oefen om die vetkryt reg vas te hou, oefen om die sirkeltjie mooi te teken, oefen om regop te sit, oefen om die papier vas te druk… oefen oefen oefen.
Ons fokus egter op die verkeerder tipe oefeninge. Fyn spiere kan nie ontwikkel as die groot spiere nog nie behoorlik ontwikkel is nie. Kan jou kind kruiwa loop? Kan jou kind aan die “monkey bars” swaai? Kan jou kind homself aan ‘n touleer optrek? Kan jou kind met ‘n leer opklim? Kan jou kind balanseer op ‘n balk? Dit is die plek waar jy moet begin. Haal die potlood uit die kind se hand, steek hom op die boud daarmee, dat hy uit die klas hardloop en buite gaan speel!
Groot motoriese ontwikkeling vorm die basis.
Wanneer jy seker is die kind het hierdie groot spiere goed geoefen kan jy beweeg na die kleiner spiere. Steeds fokus ons nie op potloodgreep nie. Knyp pennetjies vas, druk pennetjies in gaatjies, skeur papier, rol klei, tel klein goedjies op, ryg krale, frommel papier … ag die lys is lank. Oefen die fyn spiere deur die spiere sterk en vaardig en slim te maak.
Oefen nou die klein spiere.
Heel laaste kom die potloodgreep. Jy sal sien as die groot en klein spiere genoeg geoefen is en sommer slim geraak het, sal die potloodgreep vanself regtrek. Natuurlik is daar uitvalle ook, maar daar sal nie naastenby soveel uitvalle wees as ons maats die regte pad volg na ‘n potlood nie.
Leave a Reply