Praktiese aanbieding van enige tema

           1. Gebruik oop vrae – horisontale aanbieding:

Vrae oor die opsigtelike. 

  • Hoeveel arms/bene/voete/hande het jy? 
  • Hoeveel tone en vingers het jy? 
  • Is daar voëls in die takke of op die gras ook? 
  • Waar wei die koeie?

Vertikale aanbieding (dinkvrae, antwoorde is nie opsigtelik nie) :

  • Wat sal gebeur as jy 4 arms gehad het? Wat sal jy anders kan doen as wat jy nou kan doen? 
  • Sê nou jou ore het op jou boude gesit, hoe sou jy maak om mooi te kon hoor? 
  • Wat sal anders wees as jou een oog voor jou kop en die ander een agter-op jou kop gesit het? 
  • Sê nou al die water is more op. Watter planne kan ons maak vir water? 
  • Hoekom dink jy vlieg die vliegtuig so laag in hierdie prent? 
  1. Gebruik van woordkaarte 
  • saam met prente en artikels/objekte;  
  • kies woorde wat iets aandui van die prent bv. voet by ‘n prent van voete. Ouer kinders kan meer as een woordkaart by ‘n prent kry soos bv. tone en hakskeen by ‘n prent van voete. 
  •  vir groepies kinders; gee opdragte; 
  • Gee ‘n woordkaart aan ‘n 2 kinders – maatjies werk saam – en vra dat hulle die letters op die alfabetkaarte teen die muur uitwys. Dis ontluikende lees wat so bevorder word asook erkenning van lettersimbole. 
  •  op verskillende maniere bv. saam met alfabetletters/tellers uitpak. 
  • Gebruik woordkaarte op ‘n leerstasietafel waar los alfabetletters beskikbaar is en elke kind sy woord se letters kan uitpak. Voorbereidende spelling. 
  • Pak tellers uit vir elke letter en tel uit hoeveel letters die woord bestaan. 

2. Brei elke dag uit, moedig eie bydraes aan. 

  • Begin die tema aanbieding met 2 – 3 prente afhangende van die ontwikkelingsvlak van die kinders. Gesels daaroor en gee die prente aan die kinders om van naby te bekyk. Lei gesprekke wat daaromheen gaan. Plaas dit dan op die bord met die nodige woordkaart(e) daarby.                                                                                 
  • Let Wel: Maak ook gebruik van die voorstelle wat in die linkerkantste kolom van die tema-aanbieding verskyn om ouers en opvoeders te lei vir meer vrae en besprekings rondom die temas.                                                                              

3.  Inhoud van die tema kan, waar paslik, by enige ander aanbieding geïnkorporeer word.                                                                          

Let wel: Die volgende vrae word gestel om jou te herinner aan die verskeidenheid moontlikhede waarvoor jy voorsiening moet/kan maak.                                                                                 

Het jy die volgende leerareas/vakke gedek? 

Taal 

  • ‘n Rympie/liedjie wat betrekking het, kan aangeleer word. 
  • Taalaktiwiteite soos woord- en lettererkenning met die woordkaarte. 
  • Gesprekvoering rondom die inhoud van die tema met insette vanaf die kinders. 
  • Woorde se lettergrepe kan geklap, voetgestamp, met ʼn instrument begelei word. 
  • Rymwoorde word gesoek in die prente en/of met die woordkaarte. 
  • Staaltjies, eie ervarings en stories om die inhoud van die tema. 

Wiskunde 

  • Objekte op die prente word getel. 
  • Onderafdelings van die objek word getel soos die bene, wiele, takke. 
  • Skat objekte se hoogte, breedte en lengte. 
  • Skat die afstand van een objek tot die ander of die tyd wat dit sal neem om die afstand af te lê. 
  • Besluit watter een is die grootste, kleinste, langste, kortste. 
  • Watter vorms kan in die objek raakgesien word. 
  • Meet sigbare objekte wat betrekking het. 

Lewensvaardigheid  

           * Aanvangskennis met: – 

  • Sosiale wetenskappe met konsepte; 

                                                    Aardrykskunde word ingewerk by die volgende onderwerpe: paaie, afstande, landskappe, die lug, bergreekse, mere, die see, blyplekke, landbouprodukte en die invloed daarvan, volkere en interafhanklikheid, gevolge van produksies en bewaring. 

                                                                   Geskiedenis het ʼn plek wanneer oor die verlede gepraat word. Hoe mense oor die weg gekom het, water bekom het, kinders geleer het, mekaar besoek het, nuwe landstreke ontgin het, geboue gebou het, objekte gemaak het in plaas van gekoop het, gewoontes en maniere wat gegeld het, kleredrag en verwantskappe aan mense van die verlede. 

  • Natuurwetenskappe met konsepte en prosesse; wanneer dit gaan oor die lewe en leefwyses, energie en veranderinge, materie en materiale, en ons planeet aarde en verderaan. 

Lei die kind om waar te neem, te vergelyk, te klassifiseer, te meet, te eksperimenteer en te kommunikeer. 

  • Tegnologie met die vaardighede van ondersoek, ontwerp, maak, evalueer en daaroor te kommunikeer. 
  • Skeppende Kunste waar dit in hoofsaak gaan oor die kind se vermoë om volgens eie behoeftes en bevrediging te kan skep. Die klem moet gladnie op die eindproduk wees nie en   die tema kan nie gebruik word om die kinders te verbind tot uitdrukking van wat die tema wil bereik nie.                                                                           
  • Liggaamlike Opvoeding waar al die fisiese faktore in ag geneem word soos die perseptueel-motoriese ontwikkeling van die kind. Dit sluit in visuele persepsie, ouditiewe persepsie,  liggaamsbewustheid van posisie, rigting, ruimte, koördinasie, lateraliteit met links/regs onderskeiding en kruising van die middellyn.                                                                    
  • Persoonlike/Sosiale welsyn waar aandag gegee word aan sosiale en persoonlike gesondheid, emosionele gesondheid en verhoudings met ander mense.                                                                                                                                                                   

Hoe het jy die vaardighede, mylpale, doelstellings geïnkorporeer? 

  • Is dit ingebed in die les? 
  • Dien dit as vertrekpunt van die les? 
  • Word dit die konklusie van die les? 
  • Is daar ruimte vir meer as een vaardigheid/mylpaal? 

Hoe assesseer jy die kinders na aanleiding van die aanbieding? 

  • Terwyl hulle besig is met die aktiwiteit? 
  • Na die aktiwiteite en in die verloop van die program? 
  • Saam met ander aktiwiteite? 
  • As individu of in groepe?  

 Hoe het jy die vaardighede, mylpale, doelstellings geïnkorporeer? 

  • Is dit ingebed in die les? 
  • Dien dit as vertrekpunt van die les? 
  • Word dit die konklusie van die les? 
  • Is daar ruimte vir meer as een vaardigheid/mylpaal?  

Deelname van kinders 

  • Sorg jy dat almal aangemoedig word? 
  • Maak jy seker daar is nie kompetisie nie? 
  • Gebruik jy deurgaans positiewe aanmoediging? 
  • Sorg jy dat kinders nie lank hoef te wag vir ‘n beurt nie – vermy rye wagtende kinders? 
  • Wissel groepe en deelnemers af – nie altyd dieselfde deelnemers per groep nie? 
  • Sorg jy vir genoeg aktiwiteit stasies/punte? 
  • Is instruksies verstaanbaar en uitvoerbaar? 

Die lesstruktuur 

Enige lesaanbieding of aktiwiteit wat aangebied word gedurende groeptyd, het ʼn bepaalde lesstruktuur sodat kennis en inhoud op ʼn suksesvolle wyse oorgedra word aan die kind.  

Die lesstruktuur 

Hieronder word net die hoofelemente genoem.  

Inleiding of bekendstelling. 

Dis hier waar jy die kind se belangstelling moet “vasgryp”. 

  • Stel ʼn vraag: “Het julle al gewonder hoe kom die water in die wolke wat reën maak? 
  • Rig ʼn probleem: “Ek wonder wat ons sal maak as dit nie meer reën nie. Kan julle aan ʼn plan dink?” 
  • Skep ʼn atmosfeer van afwagting: “Vandag gaan ek julle iets vertel van ʼn baie snaakse dier.”
  • Betrek die voorkennis van die kind (haak vandag se nuwe kennis aan dit wat die kind reeds weet): “ Kan julle nog onthou hoe dit in die wolke gerommel het toe dit laasweek gereën het?”                                                           

Aanbieding of kerndeel van die les. 

Bied die inhoud van die les aan om aan te pas by die ouderdom/ontwikkeling van die kinders. Vermy dit om ʼn “lesing” aan te bied. Maak gebruik van stemtoon, gesigsuitdrukkings, liggaamstaal en beweging. 

Onthou!!! Die kinders moet die les kinesteties beleef. Dit beteken daar moet genoeg geleentheid wees vir die kinders om liggaamlik te kan deelneem aan die lesaanbieding bv. 

“…. en toe stap die ou skilpad stadig af in die pad. Wys my hoe dink julle hoe stadig hy gestap het.” 

“… die reën begin al hoe meer te val. Wys met jou handjies hoe die reën val.” 

“… die sprinkaan spring met een sprong bo-oor die kriek! Kan julle so ‘n lang spring gee?” 

“… daar val die karretjie se wiel af en hy rol in die veld in. Wys my hoe rol die wiel.” 

Gebruik apparaat om die kennis wat aangebied word, te verduidelik.  

Stories: Prente, boeke en objekte wat pas by die inhoud van die storie. 

Rympies, versies, liedjies: Kies wat paslik is vir die ouderdom. Vertel die storie/agtergrond daarvan. Vergesel met prente.   

Temas: Sien die verduideliking van tema-aanbieding bo. 

Wiskunde: Verskaf tellers, getalkaarte, getallelyn en soveel moontlik konkrete ervaring van die beginsels van wiskunde. 

Vakinhoude: Maak gebruik van eksperimente, aanskoulike prosesse, plakkate wat veranderinge beskryf, werklike objekte, gebruik soveel moontlik van die kind se sintuie om te ervaar en duidelike prente in boeke. 

Afsluiting of konklusie. 

Lei die aanbieding na ʼn punt waar die opvoeder kan vasstel of die kinders die lesdoel bereik het:  

  • Begryp die kinders die kennis wat oorgedra is? (Vra vrae ter verduideliking of brei uit.) 
  • Toon die kinders dat hulle deelgeneem het aan die verloop van die les? (Deur die verloop van die aanbieding.) 
  • Is die kinders se reaksie een van toe-eiening van die konsepte wat oorgedra is? (Lewer hulle kommentaar of vra vrae wat wys hulle dink oor die aanbieding. -Ek sal nie naby die rivier speel as dit so reën nie.) 
  • Kom die kinders tot ʼn konklusie. (Kan hulle ʼn gevolgtrekking maak? – Die haas moes maar nie gaan slaap het nie.)                                                                             

 Onthou!! Assessering maak altyd deel uit van jou lesaanbieding. Jou doel met ʼn aanbieding van ʼn les of enige aktiwiteit is om die kind te begelei na die leeruitkomste, doel en rede waarom jy die aanbieding doen en dit strook met die assesserings. (Word volledig behandel in Assessering.)                                                               

Dit is nie nodig om al die lesse wat aangebied word volledig uit te skryf/tik nie. Die veronderstelling is dat elke opvoeder die lesstruktuur op die breintafels van haar kennis ingeprent sal hê. Dus toon die voorbeeld hieronder slegs die sleutelinhoude aan en die doel van of rede vir die lesaanbieding. Onthou, dit hoef nie by die tema in te skakel nie. 

Was hierdie sinvol vir jou? Hierdie is ‘n uittreksel uit ons Klaspraktyk in aksie gidse. Gaan loer hier om die volledige 10 gidse aan te koop :

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create a website or blog at WordPress.com

Up ↑

%d bloggers like this: