Instappies is groot pret in enige skool! Dit is ook so dat dit ‘n duur affêre kan wees en vuisvoos ouers moet nóg geld opdok vir die voorreg. Dit is egter ook heerlike leergeleenthede. Ons kinders kry blootstelling aan ander mense en ander maniere van aanbied. Ons verbreed ook ons maats se algemense kennis deur hierdie heerlike geleenthede.
Hier is dalk vir jou skool raad as jy sukkel met die fondse vir hierdie dae. Betrek jou ouers! Elkeen van ons kinders se ouers het ‘n werk, of ‘n passie vir iets buite hulle werk, of ‘n oupa wat ‘n besonderse talent het, of ‘n ouma wat ‘n bydrae kan lewer.
By my eie skooltjie is een van ons mammas ‘n tandarts assistent. Haar pa is ‘n afgetrede tandarts. Hier is fotos van ons tandarts instappie van hierdie jaar.
Hier is nog idees waar jy die ouers in jou skool kan betrek by instappies of ander leer geleenthede :
- Ouers wat houtwerk of ander handewerk kan doen
- Professionele beroepe (tandarts, dokter, verpleegster, ingenieur, argitek ens) kan iets interessant uit hulle beroep kom demonstreer
- Natuurkundiges kan ‘n skattejag of stap in die veld help reël
- Stads en streeksbeplanner kan van paaie kom vertel (veral handig by die tema hier bly ek!)
- Betrek die bobaas bakkers by jou bak en brou klasse
- Dansers (en ander ouers wat in soortgelyke aktiwiteite uitblink) kan bewegingslesse kom aanbied
- Ouers wat klavier (of ander instrumente speel) kan betrek word by die musiekklas.
Ons ouers is ‘n wonderlike bron van kennis! En die oupas en oumas NOG meer so. Boonop het die oupas en oumas dikwels baie tyd op hulle hande en sal graag betrokke wil raak by die skool.
Leave a Reply