Ons leer nou by die huis

Die afgelope paar maande is ons almal by die huis. Die hele dag. Ouers wat werklik tuisonderrig sal vir jou sê dat dit vir hulle ook abnormaal en vreemd is. Hulle is immers bitter min net by die huis en ry rond vir ‘n verskeidenheid aktiwiteite en geleenthede. Hierdie is dus nie tuisonderrig in die ware sin van die woord nie.

Dalk meer soos ‘n geforseerde-virus(dalk eerder vrees)-geïnduseerde-skool-by-die-huis opset. Eens op ‘n tyd het ek gedroom van tuisonderrig, maar ‘n nare egskeiding het daardie drome in die wiele kom ry. Met my 2 oudste kinders stewig geplant in ‘n staatskool, en ek wat die beste daarvan probeer maak, stap ons die pad nou al vir etlike jare.

Intussen het ek ‘n suksesvolle besigheid begin en leef my droom en passie elke dag daarin uit! Die tyd nodig om kinders by die huis te leer, lankal opgevreet deur al die eise van my werk. Bevoorreg genoeg om my eie baas te wees, maar steeds nie voltyds mamma en juffrou vir my kinders nie.

Terug na waar ons vandag trek. Ek het die afgelope tyd sommer baie van myself geleer. Die belangrikste daarvan is vir seker dat elke mamma in elk geval ‘n juffrou is. Of sy nou kies om haar kinders ten volle tuis te onderrig en of sy haar kinders skool toe stuur, en al die opsies tussen in. Elke iets wat ons aanpak het ‘n ondertoon van leer. As ons gemmer koekies bak leer van ons wiskunde, as ons Boereplaas speel oefen ons om te lees en geld somme te maak, as ons elke dag moet skottelgoed wegpak leer ons van deursettingsvermoë en onaangename take wat elke dag gedoen moet word.

Intussen het ons ook kaart gelees in NW (of is dit nou SW of LV?) … julle sien, ek is nou nie heeltemal ‘n graad 4 juffrou nie! Ons het geleer van breuke, en ek het weer onthou van selfstandige naamwoorde… ons het saam van die ruimte geleer (my seuna se belangstelling) en hy het vir ons ‘n power point gebou (om die spelfoute reg te maak, was die taalles vir die dag).

My graad 2 dogtertjie moet sinne skryf, ons dink lawwe lekker sinne uit, en skryf dan ‘n ernstige sin in haar boek. Sy tel die woorde, graad 2 kinders se sinne moet langer as 3 woorde wees. Ons doen somme saam en giggel lekker as ons beide se vingers en tone opgeraak het en ons nog iemand moet soek om vingers by te dra.

Dan het ek natuurlik ook my 4 jarige. Sy vertel ernstig hoe haar tyd nie gemors moet word met simpel tellers nie, sy moet huiswerk doen. In boeke.

Dan besef ek. Ek is dankbaar vir elke deurmekaar, oorval, besige dag by die huis. Maar ek is ook dankbaar vir onnies wat die stokkie oorneem by my. Ek is dankbaar vir hierdie tyd saam met my kinders (al is ons beursies nou leër as nog ooit tevore), maar ek gaan ook dankbaar wees as alles weer normaal kan wees.

Ek wens egter (nou meer as ooit) dat ouers en skole as ‘n span kan saamstaan. Dit maak my hartseer en sommer opstandig as ek lees hoe skole ontmoedig en opgestook word om ouers nie tegemoet te kom nie. Dit maak my netso hartseer as ouers skole almal oor dieselfde kam skeer.

Hierdie tyd is die tyd om saam te staan. Dis die tyd waar ouers hulle kinders se belange op die hart moet dra en waar skole nie die aflosstokkie moet gryp en die ouer wegstamp uit die pad nie. In my droomwêreld stap ouers en onderwysers langs mekaar. .. met die kind in die middel.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create a website or blog at WordPress.com

Up ↑

%d bloggers like this: