Fyn spier ontwikkeling

3 mins read

Een van die gewildste vrae wat ek ontvang vanaf ouers en juffrouens handel oor fyn spier ontwikkeling. Die trant is min of meer as volg :

Jannie se juffrou sê hy hou nie van inkleur nie. Hy skryf baie lelik. Jannie is 5. Wat kan ek doen om te help?

Van ‘n bekommerde mamma

OF

Sarie is in my klas. Sy is 4 jaar oud. Sy hou niks van skryf of inkleur nie. Wat kan ek doen dat sy nie in graad 1 sukkel nie?

Van ‘n besorgde juffrou

Kom ons begin by die begin. Fyn spiere begin by groot spiere. Ek wil hê jy moet dit hardop voor die spieël gaan oefen sodat dit kan insink en daar bly. Julle kan vetkryte vashou tot die wederkoms – as die groot spiere onderontwikkel is mors jy jou tyd.

Wat bedoel ek met groot spiere?

Die skouergordel (wat ons gebruik by die “monkey bars” en kruiwaloop) hou basies jou hele bolyf in posisie. Jou midrifspiere (“core muscles”) hou jou weer mooi regop. Sterk armpies word ook nie so vinnig moeg soos armpies wat net die knoppies op die IPad kan druk nie.

Die oefen en versterk van die groot spiere is dus die eerste bestanddeel in jou resep.

Nou kom ons by die klein spiere.

Dit word ook fyn motoriese ontwikkeling genoem. Dis die spiere betrokke by die vashou van ‘n kryt en by aktwiteite soos knope vasmaak en knip.

Hier is ‘n paar idees om hierdie spiere te oefen en te versterk :

  • ryg krale
  • knyp met wasgoedpennetjies
  • druk stokkies in gate (veral klein pennetjies in klein gaatjies)
  • speel met klei
  • tel klein items op met die wysvinger en duim (soos stokkies of pom poms)

Dis nou op hierdie punt waar jy dalk na jou asem gaan snak. Het jy geweet dat inkleur en teken weglaatbaar is as dit by die klein spiere kom in die kleuter? Daarmee sê ek nie gooi alle inkleurboeke en tekenpapiere weg nie – maar ek wil graag met versigtigheid daarop klem lê dat baie kleuters bloot nog nie fisies gereed is vir potloodgreep nie.

Dis ‘n hartseer werklikheid dat vele Suid-Afrikaanse kleuterskole inkleur as díe belangrikste aktiwiteit sien en hulleself oortuig het dat min of meer alle vaardighede deur hierdie heen en weer skuif van ‘n vetkryt aangeleer kan word. Dis dan nie ‘n verrassing as ons graad 1’s (en nóg meer so ons graad 3’s) nie kan lees of skryf nie. Die waarheid is dat inkleur bitter min waarde toevoeg.

Natuurlik kan ons nie inkleur net weglaat nie, ook nie teken nie. Maar ons moet ophou dink ‘n kind wat hou van inkleur is voor die kind wat dit nie wil doen nie.

Gaan lees gerus ‘n ander insig op hierdie onderwerp hier : https://empoweredparents.co/why-you-should-never-give-your-child-colouring-in-pages/

Ek sluit af met die waarheid wat hierdie hele artikel saamvat. Ons is geneig om die kinders te laat inkleur omdat dit makliker is vir die juffrou – nie beter vir die kind nie.

Sê jou sê hier

%d bloggers like this: